NG Gemeente Floridapark
Tuisblad Nuusblad Aktiwiteite Kommisies / Aksies Fotoblad Humor Jeug Basaar Voorblad
50 JAAR 2009
NG FLORIDAPARK GESKIEDENIS 1959 - 1964
Fotos 28 Feb 2009
NG FLORIDAPARK GESKIEDENIS 1959 - 1964
Eerste kerkraadsvergadering gehou op 28 September 1959 in Hoërskool Florida se saal.
Na die sing van Psalm 146:1 open Ds Myburgh met gebed en die lees van Nehemia 2. Hy wens die broers geluk met die totstandkoming van die gemeente en spreek die vertroue uit dat die gemeente mag groei en uitbou tot eer en verheerliking van ons Meester.
Die volgende aanstellings word eenparig gemaak:
Ouderling JJ van L Sadie as kassier.
Ouderling JA Joubert as skriba.
Ouderling WF Pienaar en diaken LF Dreyer as mede-kosters.
Mej. Raath as pianiste.
Die vergadering spreek sy dank uit teenoor bogenoemde persone omdat hulle hul dienste sonder vergoeding beskikbaar stel.
Die gemeente open ‘n bankrekening by Volkskas in Roodepoort.
Mnr en Mev Hennie Jooste bied aan om ‘n kerkkoor af te rig.
Mnr A Strydom bied aan om die kanselkleed te ontwerp en te skenk.
Ouderling Jordaan deel die vergadering mee dat ‘n broer aangebied het om die nagmaalbeker te skenk.
Ouderling Van Coller se geredelike samewerking in verband met die beskikbaarstelling van die Hoërskoolsaal vir Eredienste en ander byeenkomste word erken.
Diaken Wolmarans skenk die kollekteborde.
Die sustergemeente Florida-Suid skenk ‘n losbladregister vir die lidmaat- en doopname.
‘n Dagbestuur en ‘n kommissie om behoorlike wyke te bewerkstellig word aangewys.
‘n Kerkraadsvergadering word belê vir 16 Oktober 1959 met die oog op die uitbring van ‘n beroep vir die eerste gemeenteleraar.
‘n Kommissie word benoem om huisvesting te reel vir die leraar.
Diaken Wolmarans word aangewys as hoofdiaken.
Daar word met dank kennis geneem dat Mev Ouderling Jordaan en Mev Ouderling Becker die broers kerkraad op hul eerste kerkraadsvergadering van verversings voorsien het.
Daar word besluit dat die gemeente se kinders tot aan die einde van die jaar nog die Moedergemeente se Sondagskool sal bywoon.
Broer Ouderling Du Toit vestig aandag daarop dat die broers paslik gekleed na kerkraadsvergaderings moet opkom asook dat stilte in die konsistorie gehandhaaf moet word.
Die skriba sluit met gebed.
Op die beroepsvergadering van 16 Oktober 1959 word ‘n ds Bell beroep teen die aanbevole salaris van £1350 per jaar plus ‘n reistoelae van £25 per maand. Die beroep was egter nie suksesvol nie.
Op 22 November 1959 vier die gemeente die eerste keer nagmaal met die Moedergemeente Florida se nagmaalservies wat geleen is vir die geleentheid.
Die eerste leraar, Dr du Toit, word op 8 Januarie 1960 ontvang.
Br ouderling Grobler is die eerste sameroeper van die Sondagskool wat op 17 Januarie 1960 om 09:00 begin met 200 kinders en 16 onderwysers.
Louis Bothalaan 53 word vir 6 maande gehuur as pastorie.
Daar word besluit dat Psalm 100:3 as introïtuslied deur die gemeente gesing sal word.
Daar word ook besluit dat die kerkraad 7 minute voor die diens sal saamkom in die konsistorie.
Op 21 Februarie 1960 word die nuwe nagmaalservies in gebruik geneem.
Die publikasie “Vertraagde Aksie” asook die Cottesloe beraad veroorsaak groot roeringe in die breë kerk en die kerkraad stuur ‘n sterk bewoorde dokument na die Sinode rondom dié raad se siening daaroor.
In Maart 1960 versoek ouderling Grobler ‘n klok vir die Sondagskool en broer ouderling Van Coller skenk dit.
In Februarie 1961 is daar 219 gesinne en 435 lidmate op die register van die nuwe gemeente Florida-Noord wat tans bekend staan as die NG Kerk Floridapark.
Tydens die gemeente se geskiedenis in die saal word daar ook hulp verleen aan gesinne wat sukkel en in een geval is die hulp in die vorm van R10 se kruideniersware per maand, R4 se vleis per maand, 2 pinte melk per dag vir die baba asook geldelike hulp tydens die baba se behandelings by Ontdekkers hospital. Dié geldelike bystand beloop 50c per behandeling.
Die sendingkommissie doen verslag dat daar bykomend tot die normale garagedienste op Donderdae twee dienste, een in die oggend en een in die middag, gehou word vir die bantoes in diens van Brs Botha, Van Wyk en Strydom. Daar was ook Pinksterbidure gehou vir die bantoes op broer Botha se plaas en hier in Florida.
Die Randse Sendingraad se tent is gebruik vir ‘n evangelisasieveldtog en dis goed bygewoon deur die bantoes en die kleurlinge.
Bo en behalwe die die verpligte sendingbydrae het die eerwaarde Kerkraad en die Sustersbond spesiale bydraes geskenk aan die Zola kerkboufonds en ook aan Bybelverspreiding. 28 Bybels is in elk geval onder bantoes versprei wat nie gehad het nie. Die evangeliste het ook kersgeskenke van die Sustersbond ontvang.
Die kerkraad skenk R100 aan die Hoërskool om die parkeerterrein op te knap.
Tydens die kerkraadsvergadering van 11 Augustus 1964 word besluit dat daar op gepaste wyse afskeid geneem moet word van die skoolsaal.
Op 4 September 1964 word die nuwe kerksaal reeds gebruik vir die gemeentekermis.
Broer Houy red die kerk se binneplein van ‘n sementblad as bedekking en gras word geplant.
By die kerkraadsvergadering van 20 Oktober 1964 word besluit dat ‘n verdere skenking van R200 aan die skool gemaak word en ook om op 29 November tydens die oggenddiens afskeid te neem van die Hoof, die beheerraad en die personeel van Hoërskool Florida. Die skoolsaal was vir 5 jaar en 2 maande die nuwe gemeente se tuiste.
Die laaste kerkraadsbesluit van die laaste vergadering in die skoolsaal is om ‘n skrywe te rig aan die sustersbond waarin die kerkraad se opregte dank betuig word vir die susters se besondere ondernemingsgees en die mooi hoogtepunte wat in die jaar bereik is. Die vergadering verdaag om11:15.
Die nuwe kerkgebou word op 5 & 6 Desember 1964 ingewy maar oor die totstandkoming daarvan sal die Eiendomskommissie u in die komende weke waarskynlik in meer besonderhede inlig.
Baie dankie vir u geduld.
NG Floridapark geskiedenis